Babafase:

Ek as ouer is die eerste Bybel wat my kind lees!  Babas beleef God dus deur pa en ma se liefde, sorgsaamheid en betroubaarheid. Die fondamente van hulle Godsbegrip word in dié fase vasgelê, daarom behoort ouers alles in die baba se leefwêreld met God in verband te bring (byvoorbeeld. Kyk hoe mooi het God die blommetjie gemaak). ’n Kinderbybel met een, eenvoudige en kleurvolle prent vir elke Bybelverhaal (baie kort), om hulle met die wêreld van die Bybel en die God van die Bybel vertroud te maak, is in die latere gedeelte van die babafase aan te beveel. Doen ook ’n kort (een sin) gebed. Begin sommer baie vroeg al in die baba se lewe om vaste roetine voor slaaptyd vas te lê. Hierdie roetine kan insluit badtyd, storietyd (verkieslik nie ’n video of storie op TV nie), Bybel storietyd, Gebedstyd en dan slaaptyd. Hierdie roetine is nie net belangrik om bepland by ’n Bybelstorie uit te kom nie, maar kommunikeer ook veiligheid en sekuriteit wat die basis van alle dissipline in latere fases vorm.

Peuters:

Peuters (2-3 jaar) kan al na ’n Bybelverhaal uit die kinderbybel luister en doen dit graag. Bybelverhale behoort kort te wees (sowat vier sinne) en die sinne behoort ook kort en eenvoudig te wees. Een, eenvoudige en kleurvolle prent vir elke Bybelverhaal is die ideaal. Die teks en die prent behoort albei op een bladsy of op twee bladsye langs mekaar in te pas. Behalwe vir die lees van die paar sinne, kan julle gerus, met verwysing na die prent, vrae aan die peuter vra en daaroor gesels. Laat kinders ook toe om hulle vragies te vra en antwoord hulle konkreet en so eerlik as moontlik. Weereens bly die vaste roetine van uiterste belang. ’n Gebedskussingtjie kan ’n handige byvoeging wees. Die kussingtjie is nie net om onder die kind se kniegies te sit wannneer hy/sy bid nie, maar dien ook as ’n belangrike onthou-middel wanneer dit by gebed kom. Leer kinders eenvoudige enkelsin gebede bid. Ouers behoort ook steeds elke aand kort eenvoudige gebede te bid. Pa’s begin in hierdie fase ’n groter rol te speel in hierdie belangrike moment in ’n peuter se lewe.

 

Kleuters:

Kleuters (4-5 jaar) geniet ’n Kinderbybel met sy Bybelbverhale. Bybelverhale behoort steeds kort te wees met eenvoudige sinne, maar ka nou effens langer wees (10-20 sinne) wat verkieslik op een gebeurtenis fokus. Daar kan ook meer as een, eenvoudige, kleurvolle prent vir elke verhaal wees, met die prent op dieselfde bladsy as wat die storie geskryf staan. Die ruimte wat die prent en die teks opneem kan min of meer ewe groot wees. Kleuters het ook reeds die vermoë om eenvoudige en kort Bybelverse te memoriseer. Steeds bly vaste roetine van uiterste belang. In hierdie lewensfase sou dit goed wees om te begin met die gewoonte om saam met jou kind deur hulle dag te stap en hulle te vra hoe hulle die verskillende goed wat gebeur het, ervaar het. In die volgende fase raak dit ’n deur vir geloofsvorming. Kinders is lief daarvoor om oor alles te bid. Ouers behoort ook steeds elke aand bietjie langer gebede te bid waarin hulle hul kind aan die Here opdra en dankie sê vir die mooi van die dag. Klein gebedsversoeke kan ook gebid word. Tydens of na Bybelleestyd en gebedstyd kan daar soms baie interessante vrae en kort besprekingtjies uitkom. Moet dit nie wegpraat nie, maar antwoord eerlik en opreg en gee die kleuter kans om hul eie gedagtes ook op die tafel te sit. Hierdee gesprekvoering vorm ’n baie belangrike onderdeel van vrymoedige gesprek oor geloofsake in die latere lewensfases. Dramatiseringt van verhale in hierdie fase kan ’n handige toevoeging wees tot julle bybelleestyd.

 

Junior kinders:

Jonger kinders (graad 1-3) is steeds baie lief vir die kinderbybel met sy Bybelverhale. In hierdie lewensfase leer hulle om te lees en volg hulle graag die woorde wat gelees word met hulle vingertjies. Die verhale moet steeds kort en eenvoudige sinne hê, maar kan langer as dié vir kleuters wees. Daar kan meer as een kleurvolle prent vir elke Bybelverhaal wees. Verhoudingsgewys kan die teks nou al meer plek as die prent opneem. Jonger kinders in die latere deel van hulle fase ontgroei stelselmatig ’n Kinderbybel en ontwikkel die vermoë om uit die groot Bybel te lees. Hulle kan ook al eenvoudige Bybelverse memoriseer. Roetine bly steeds belangrik. Tydens hierdie fase kan nou voortgebou word op die gewoonte om deur die dag se program te stap deur te vra na die hoogte- en laagtepunte wat hulle beleef het gedurende die afgelope dag. Dit vorm nogal ’n belangrike deel van die geloofsvorming op die pad vorentoe en help ouers om kinders se harte te leer ken van jongs af sonder dat dit bedreigend is en help ook as aanknopingspunt vir die Bybellees- en gebedstyd. Kinders bid graag vir persone en konkrete dinge. Hulle is nou instaat om meer selfstandig eenvoudige gebede te bid. Hulle vrae en gebede is soms baie eerlik en vir volwassenes soms selfs humoristies. Gaan steeds voort om saam met jou kind te bid en hulle vrae eerlik te antwoord. Bied aan om te gaan uitvind oor vrae as jy as ouer nie presies weet hoe om te antwoord nie. Help jou kind ook verstaan dat julle as ouers, medereisigers saam met die Here op julle lewenspad is en dat julle nie die eindpunt bereik het en hulle nog daar moet uitkom nie. Dit sal soms ook nodig wees om hierdie Bybelleestyd met beweging, dramatisering en aktiwiteite op te helder waar die kinders self ook kan deelneem. Betrek ook die kinders se daaglikse ervarings by die verhale wat julle lees. Julle gesprekstye mag in hierdie fase langer word. Dit is raadsaam om in hierdie fase vir jou kind ’n eie Bybel te koop (Daar is vandag soveel Bybel op die mark, maar die aanbeveling is om vir ’n kind een van die standaard Bybels – Ou- en Nuwe Testament – wat deur die Bybelgenootskap uitgegee word, aan te skaf). Onthou dat julle as ouers eie voorbeeld van hoe julle met die Bybel omgaan, is steeds van onskatbare belang. Lees dus julle Bybel  en leef daaruit – ook tye wanneer jy dit nie vir jou kind lees nie.

 

Senior kinders:

Kinders (Graad 4-7) het die Kinderbybel grootliks ontgroei en kan selfstandig uit die groot Bybel lees en stiltetyd hou. (Moet asseblief nie gesamentlike Bybelleestyd opsy skuif nie.  Al het julle as ouers nie so iets geken in julle eie huis nie, gaan net voort om saam met jou kind op ’n geroetineerde basis die Bybel te lees, te bid en gesprekke te voer oor dit wat julle gelees het. ’n Handige hulpmiddel kan die huistafel-gespreksmetode/ of Huisgeloof se kosblik- metode wees. Julle kan iets meer hiervan uitvind by Bybel Media by www.BybelMedia.co.za  Probeer om tog ’n program te volg vir julle lees van die Bybel. Dit kan dieselfde wees as wat by die kategese gevolg word of  die lyne/tekste volg van ’n boek wat julle vir die doel aangeskaf het.). Hulle hou steeds van sekere Bybelverhale, veral oor geloofshelde en oor die wonder en mag van Jesus. Hulle begin nou ook graag oor leerstellige en etiese kwessies redeneer en debatteer. Bybelvers-memorisering behoort ’n groot rol in hierdie fase te speel, omdat hulle in die sogenaamde “goue eeu van die geheue” is. Begin dus elke sessie met ’n in-vra na die hoogte- en laagte punte van hulle dag (o, ja. Vra dat almal hulle selfone sal afsit tydens die sessie en dat niemand voor die TV gaan sit nie). In hierdie lewensfase moet hulle ook geleer word om sensitief te luister na al die ander se insette. Help hulle om ’n verband te ontdek tussen die teks en die lewe. Gebruik die Bybelgdeelte wat julle lees en vra wat dit te sê het oor die hoogte- en laagtepunte wat hulle beleef het. Gee ruim tyd vir gesprekke oor hoe ons vandag as kinders van die Here kan lewe in die gebroke wêreld waarin ons lewe.  Ouers se eerlike deelname in gesprekke, erkenning van foute en gesamentlike soek en bid vir mekaar is in hierdie fase belangrik. Hierdie openheid sal in latere lewensfases kinders vrymoedigheid gee om sonder hindernisse moeilike sake met hulle ouers op te neem. Maak beslis tyd dat elke kind en ouer bid en bid ook vir mekaar se hoogte- en laagte punte. Bid veral saam in moeilike tye wat die kinders en julle as ouers beleef en bemoedig en seën mekaar by elke geleentheid. Weereens is dit van belang om te noem dat kinders julle as ouers dophou en raaksien hoe julle met die Bybel omgaan wanneer julle nie vir hulle Bybel lees nie. Dit dra dikwels ’n sterker boodskap as om vir jou kind Bybel te lees. Leef dus dit wat jy glo.

(Grootliks oorgeneem en bygewerk uit: Kinderbediening – Eenheid Standaard 3. Dr Leon van Zyl, Paidion Onderrigsentrum, Unisa – soos gepupliseer in Doop Voorbereiding vir ouers deur Jannie du Plessis.)

 

Vroeë adolessente

Jong adolessente (Graad 7-9) lees die Bybel selfstandig en verkies om op hulle eie stiltetyd te hou.  Moedig kinders aan om selfstandig iets op hulle eie te doen voor hulle gaan slaap. Koop selfs vir hulle ’n dagboek of moedig hulle aan om ’n stukkie in die Bybel te lees en te bid. Dit is egter vir hierdie ouderdom kind baie moeilik om die brug te slaan tussen die teks en die lewe en hulle raak gou moedeloos en hou op om Bybel te lees. Poog daarom om nie die gesamentlike Bybellees opsy te skuif nie, maar ten minste een keer per dag, as gesin saam, verkieslik rondom die etenstafel, Bybel te lees. Indien dit julle gebruik was in die vorige lewensfases, sal dit makliker voortgaan. Die lewe raak egter baie besig en die kinders se programme raak ook baie besig. Poog om dit ’n instelling te maak. Soms mag julle daarvan afwyk, maar behou die instelling (onthou steeds dat almal gevra word om hulle selfone af te sit en dat niemand voor TV sit nie). In die leesprogram kan die kategeseprogram gevolg word of probeer om volgens ’n boek of temas gestruktureerd te werk (’n Handige hulpmiddel kan die huistafel-gespreksmetode/ of Huisgeloof se kosblik- metode wees. Julle kan iets meer hiervan uitvind by Bybel Media by www.BybelMedia.co.za ).  Gedurende die begin van hierdie lewensfase is die kinders die mees ontvanklikste om geloofskeuses te maak. Hulle begin ook nou ’n sterk redeneringsvermoë ontwikkel wat hulle baie laat wonder oor die Bybel. Gee daarom ruim tyd vir hulle vrae, hulle redenering en help hulle om ’n sensitiwiteit te ontwikkel vir etiese kwessies. Later in hierdie fase speel groepsdruk ’n enorme rol in hulle lewens en is dit belangrik om hulle stewig te anker in hulle verhouding met die Here, voordat hulle die sogenaamde woestyn begin tref in graad 9. Hou dus steeds vol met die deel van hoogte- en laagte punte, lees van die Bybel, gesprek oor die hoogte- en laagtepunte in die lig van die teks, gebed vir hoogte- en laagte punte en die bemoediging en seën van mekaar. Dikwels word die gesprekke langer en wyk af van die teks wat gelees is en neem kinders vrymoedigheid om hulle binnekante oop te maak. Ouers moet dit dan nie net vinnig kort knip en aangaan nie, maar luister en deelneem aan die gesprek. Tydens hierdie fase begin memorisering van teksverse ’n ander rol speel. Hulle memoriseer tekste wat hulle help om vashouplekke te kry in moeilike situasies. In die latere deel van hierdie fase het kinders sterk oortuigings, maar hulle spreek dit nie noodwendig hard uit nie en sal dit nie sommer voor en by vriende deel nie. Ouers behoort maar net steeds aan te moedig dat hulle kinders vashou aan dit wat hulle glo en ouers kan gereeld in geloofsgesprekke deel hoe sekere geloofswaarhede hulle in hulle lewens gehelp het om keuses te maak, deur moeilike tye te kom en hoe die Here julle gelei en gedra het in die lewe. Dit vorm ’n sterk basis waaarop hierdie kinders altyd terugval.  Dit mag ook dalk lyk of kinders in die latere fase van hierdie ouderdom nie ag slaan op julle as ouers se omgang met die Bybel nie. Dit is egter krities belangrik dat ouers goed daarop sal let dat kinders in hierdie fase hulle dophou en fyn sien watter rol en invloed die Bybel in hulle ouers se lewens speel. Wanneer ’n ouer hulle Bybel lees en ’n kind sien dat dit vir hulle ’n saak van erns is om in ’n verhouding met Jesus te lewe, maak dit ’n blywende impak in daardie kind se lewens en word deur sommige beskryf as die grootste enkele invloed op hulle geloofsvorming. Gebed vir en saam met jongmense is van uiterste belang in hierdie lewensfase. Daar is beslis ’n direkte verband tussen gesamentlike gebed en ’n sterk geloofsidentiteit na hierdie lewensfase.

Laat adolessente

Jongmense (Graad 10 – 12) lees die Bybel selfstandig en verkies om op hulle eie stiltetyd te hou.  Aanbevelings vir hierdie fase stem grootliks ooreen met die vroeë adolessensie, maar verskil in die opsig dat daar ’n afname van die effek van groepsdruk te bespeur is en dat dieper leerstellige  en etiese kwessies nou deel begin vorm van die jongmense se nuwe identiteit. Die waarde van die Bybel vir die lewe begin nou meer sin maak vir jongmense en sommige getuig dat dit die lewensfase is waarin hulle die meeste gegroei het in hulle geloofsverhouding. Poog daarom om steeds nie die gesamentlike Bybellees opsy te skuif nie, maar ten minste een keer per dag, as gesin saam, verkieslik rondom die etenstafel, Bybel te lees. Indien dit julle gebruik was in die vorige lewensfases, sal dit makliker voortgaan. Die lewe raak egter baie besig en die kinders se programme raak nou uitermatig besig. Poog steeds om die gesamenlike Bybellees ’n instelling te maak. Soms mag julle daarvan afwyk, maar behou die instelling (onthou steeds dat almal gevra word om hulle selfone af te sit en dat niemand voor TV sit nie). In die leesprogram kan die kategeseprogram gevolg word of probeer om volgens ’n boek of temas gestruktureerd te werk (’n Handige hulpmiddel kan die huistafel-gespreksmetode/ of Huisgeloof se kosblik- metode wees. Julle kan iets meer hiervan uitvind by Bybel Media by www.BybelMedia.co.za ).  In hierdie lewensfase is die jongemense om meer komplekse sake na die tafel toe te bring. Hulle het ook behoefte om oor die lewe en oor dieper dinge rondom verhoudings, konflik, die politiek, die wetenskap te praat. Behou ’n openheid en deel eerlikie opinies sonder om uitsluitend te wees.  Deel jou eie getuienis oor hoe jy sake sien en beleef en besluit saam om te soek na antwoorde. Jongmense is nou ook meer gereed vir ’n eenvoudige  onderskeidingsproses in hulle lewens. Dis ook in hierdie lewensfase waarin  daar nader beweeg word na ’n konstante identiteit, etiese kodes  en geloofsoortuigings. In hierdie fase het kinders gewoonlik sterk oortuigings, maar hulle spreek dit nie noodwendig hardop uit nie en sal dit op ’n beperkte basis met vriende deel. Ouers behoort maar net steeds aan te moedig dat hulle kinders vashou aan dit wat hulle glo en ouers kan gereeld in geloofsgesprekke deel hoe sekere geloofswaarhede en etiese oortuiginge hulle in hulle lewens gehelp het om keuses te maak, deur moeilike tye te kom en hoe die Here julle gelei en gedra het in die lewe. Hierdie gesprekke se inhoud vorm ’n sterk basis waaarop hierdie kinders altyd terugval.  Dit mag ook dalk lyk of nie ag slaan op julle as ouers se omgang met die Bybel nie. Dit is egter krities belangrik dat ouers goed daarop sal let dat kinders in hierdie fase hulle steeds dophou en fyn sien watter rol en invloed die Bybel en hulle verhouding met die Here in hulle ouers se lewens speel. Wanneer ’n ouer hulle Bybel lees en ’n kind sien dat dit vir hulle ’n saak van erns is om in ’n verhouding met Jesus te lewe, maak dit ’n blywende impak in daardie kinders se lewens en word deur sommige beskryf as die grootste enkele invloed op hulle geloofsvorming. Gebed vir en saam met jongmense is van uiterste belang in hierdie lewensfase. Daar is beslis ’n direkte verband tussen gesamentlike gebed en ’n sterk geloofsidentiteit na hierdie lewensfase. Hierdie lewensfase bou sterk op al die vorige lewensfases se geloofsvorming. Indien daar reg deur die ontwikkelingsfases gehou is by gereelde Bybellees en gespreksoomblikke, sal dit makliker gaan daarmee in hierdie lewensfase. Indien dit nie deel was van die grootwordjare nie, sal dit bitter moeilik wees om op hierdie ouderdom so iets te begin toepas. Dikwels is dit juis hierdie gesamentlike stilword en gesprekke rondom die Bybel wat kinders in hulle latere jongvolwasse lewens die vrymoedigheid gee om ’n oop en eerlike verhouding met hulle ouers te handhaaf en wanneer krisisse kom gee dit ook die jongmense vrymoedigheid om daaroor met hulle ouers te praat, raad te vra  en daaroor te bid. Wanneer jongmense deur so ’n pad van geloofsvorming begelei is, is hulle geneig om iets soortgelyks in hulle huise in te bou wanneer hulle self eendag kinders het.