Akkerpret

Bybel-Media het ’n DVD-reeks vir kinders (3-8 jaar) vrygestel. Dié reeks fokus op God se karaktertrekke en eienskappe en die invloed wat Hy op ons het. Kinders word aangemoedig om God as Persoon te leer ken. Vanuit ons verhouding met Hom, ontdek ons dan ons verantwoordelikheid en die vrug van Sy teenwoordigheid in ons lewens. Dit is ook ’n lekker hulpmiddel vir ouers en onderwysers om goeie waardes en karaktereienskappe by ons kinders te kweek.

Elke DVD bestaan uit ag waardes, ag stories en ag liedjies. Met gebruik van ’n groep poppekarakters word kinders deel van die wêreld in Bybelpark — nie’n fantasie wêreld nie, maar sommer ’n park hier naby ons, moontlik nie ver van ons huis af nie. Die gebeure is ook relevant en kon heel moontlik met ons mensemaats self gebeur het.

In Bybelpark staan ’n groot ou eikeboom. Daar woon drie akkers, Attie, Anneke en Amber. Die drie akkermaats vind altyd een of ander ernstige vraag en vra dan vir Oupa Uil wat die antwoord is. Oupa vertel ter illustrasie die mooiste stories oor die Akkerjakkers van Bybelpark. Frikkie en Frederik is twee eekhoring-boeties en saam met hulle ander dieremaats leer hulle heerlike lewenslesse. Wanneer die Akkers nou beter verstaan en ’n antwoord op hul vraag het, sing hulle ’n splinternuwe, opgewekte liedjie.

Oorspronklike liedjies is geskep vir elke tema. Die liedjies is geskryf om die kernwaarde saam te vat en vas te lê in ons kinders se harte. CD 1 en 2 is reeds beskikbaar en bevat ’n keur van 48 saamsingliedjies.

Géén moeite is ontsien om vir ons kinders ’n eg Afrikaanse produk van hoogstaande gehalte te bied nie. Die poppe, stel en vervaardiging is van die beste en die Akkerjakkers gaan nog vir baie jare pret saam met ons kinders hê. Elke DVD is ongeveer 90 tot 120 minute lank.

Ons vertrou dat hierdie DVD-reeks ook tot diens van gemeentes, kleuter-, preprimêre- en laerskole kan wees. Daar is gepoog om nie die gehalte van taalgebruik af te water nie en ons glo daar is steeds daarin geslaag om die inhoud relevant en verstaanbaar te maak vir ons kleuters en jong kinders.

FrikkieSkoleprojek

Bybel-Media het besef dat daar ’n groot behoefte is aan hoë kwaliteit, Afrikaanse Christelike produkte vir die jongspan. Bybel-Media het daarom  besluit om die Akkerpret-projek te ontwikkel. Pryse is intussen drasties verlaag spesiaal vir dié projek, en as ’n ekstra bonus kan instansies nou 20% van alle verkope invorder. Akkerpret is geskik vir kinders tussen die ouderdom van 3-8 jaar en leer aan kinders verskeie Christelike waardes soos eerlikheid en om nie met jou maatjies te baklei nie.

Bybel-Media verskaf die nodige pamflette met bestelvorms aan instansies. Instansies vorder die bestelvorms en in en stuur dit aan Bybel-Media.

Regs is ’n foto van ons “mascot”, Frikkie. Hy kan ook u instansie besoek indien u sou belangstel. Frikkie deel graag lekkergoed en promosie-items uit en kinders is gaande oor hom! Kyk gerus na ons galery met foto’s waar Frikkie ons maatjies ontmoet en drukkies uitdeel.