By die Huis leer ek glo

Oral hoor ons: Die gesinslewe in die land het heeltemal verander. Mense wat in een huis as ‘n eenheid saam funksioneer, is nie altyd met bloedbande aan mekaar verbind nie.

Die Taakspan van Algemene Sinode sê: Kom ons noem hierdie kerngroep in ons samelewing die Huis. Geloof word veral gevorm in die groep waar ons leef, ontspan, saam eet, saam ry, en onder dieselfde dak slaap. Klik hier vir die boek Kerk+Huis. Hierdie produk is  deur die taakspan ontwikkel vir families om saam te gebruik om huisgeloof te versterk.

In die Real Lewe-reeks wat bestaan uit ‘n Handleiding op CD en ‘n gespreksgids vir ‘n Leier met ‘n groep jongmense uit Graad 7 tot 10, is daar ook elke week onderwerpe vir bespreking by die Huis.

Die LP3 werkboeke vir die Laerskoolgroepering, se nuutste publikasie, Ene ore. Nuwe maniere doen dieselfde. Aan die einde van elke groepsbespreking is daar vrae vir bespreking onder die opskrif: HuisGeloof.

Gewone ruimtes word heilige ruimtes

Vandat ek ‘n ma geword het, het my lewe aansienlik besiger geword. Wanneer ek van die werk af kom, dan begin die roetine by die huis. Kinders moet gebad word, almal moet kos kry, ons moet lekker speel, doeke moet geruil word en bottels moet gewas word. Ek en my man weet albei dat stiltetyd saam die gesin belangrik is, maar dit is nie altyd so maklik om nog ‘n uur in die dag op sy te sit om saam rondom die Bybel stil te word nie.

Ek lees toe nou die dag ‘n boekie van Mark Holmen waarin hy ‘n klomp mites rondom stiltetyd by die huis bespreek. Een van die mites wat hy bespreek is die mite dat jy alles moet stop om stil te word as gesin. Ek wonder toe by myself, as ek nie noodwendig hoef te stop om saam my gesin stiltetyd te hou nie, hoe hou ek dit?

Die verhaal van Moses se roeping kom toe by my op. Moses is besig met die gewone dinge van sy dag, besig om vee op te pas en ewe skielik, daar in die veld by ‘n boom, het God ‘n ontmoeting met Moses. In Eksodus 3:5 staan daar “Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan , is heilige grond.” ‘n Gewone ruimte word verander in ‘n heilige ruimte toe Moses bewus word van God wat by hom is.

Miskien is dit wat Mark Holmen bedoel as hy sê ons hoef nie te stop om saam stil te word nie. Dalk kan ons in ons gewone dag meer intensioneel saam bewus word van God wat teenwoordig is en so ‘n gewone ruimte omskep in ‘n heilige ruimte.

Daarom as jou lewe ook besig is en jy wonder waar jy as gesin saam gaan stilword. Dink aan ‘n ruimte of ruimtes waar jy en jou gesin (of dele van die gesin) in elk geval saam is. Dit kan wees terwyl julle eet, voor julle gaan slaap, as jy skool toe ry ens. Probeer dan as gesin om in hierdie tye meer intensioneel bewus te wees dat God teenwoordig is, deur saam te gesels oor jou dag, saam Bybel te lees, te bid ens. Wanneer ons dit gebruik wat reeds tot ons beskikking is, sal stiltetyd nie nog ‘n las op ons skouers wees nie, maar ons sal leer om gewone ruimtes te omskep in heilige ruimtes waar ons as gesin saam God se teenwoordig kan beleef. Kort voor lank sal ons dan ook besef dat elke oomblik eintlik heilig is, want God is elke oomblik by ons.

Ingeboude kompas

Die geskreeu van rubber doof uit terwyl die stof weer tot bedaring dans. Vandag is nie die dag wat Gerhard by hierdie kruising wil vashaak nie. Hy het slegs 20 minute voordat sy onderhoud begin. Die nuwe werk bied soveel belofte. Dit is die kans van ’n leeftyd wat hy net nie kan misloop nie.

Gerhard weet net nie wat om by hierdie kruispad te doen nie. Hy het al by baie T-aansluitings gestop. Jy draai links of regs. Hy is ook een van die min mense in Suid-Afrika wat weet hoe om ’n verkeersirkel te gebruik, maar hierdie kruispad is nie gebruikersvriendelik nie. Daar is geen straat wat reguit loop soos die GPS sê nie, maar ’n kruispad met drie paaie na links en drie na regs. Die eerste afdraai na regs is toe onder die doringdraad en voel net onverantwoordelik. Daardie pad sal nie ’n slim opsie wees nie. ’n Draai na links is in die regte rigting, maar watter afdraaipad neem hy?

Jongmense en alle gelowiges bevind hulself soms by kruispaaie soos Gerhard s’n. Ons leef met die verwagting dat jy dalk net twee keuses het. ’n Keuses tussen reg en verkeerd. Goed en sleg. Wanneer ons egter by besluite en uitdagings in die lewe kom, word ons gereeld met ’n meer komplekse wêreld gekonfronteer. Reg en verkeerd is nie in alle omstandighede so voor die hand liggend nie.

Kategese materiaal probeer met die jare om jongmense vir kruispaaie voor te berei. Die probleem is egter dat meeste kruispaaie soos T-aansluitings hanteer word. Daar is net een regte pad en die ander pad (of soms paaie) is verkeerd. Kategese materiaal plaas hierdie kruispaaie onder die vergrootglas en gee dan die regte antwoord aan die jongmense. Jy mag nie vloek nie! Egskeiding is verkeerd! Wees gehoorsaam aan gesag! Moenie aan groepsdruk toegee nie!

Om eerlik te wees, is sommige kruispaaie meer soos ’n T-aansluiting. Dwelms bly gevaarlik. Die probleem is dat alle kruispaaie nie so eenvoudig is nie. Wat as ’n huwelik meer skade begin veroorsaak as wat dit goeddoen?  Wat as ’n gesagsfiguur soos ’n onderwyser van jou iets onredelik verwag? Is groepsdruk verkeerd as dit ’n positiewe gesindheid verwag? Hierdie komplekse “grys-areas” was ook altyd daar en sommige kategese materiaal het probeer om voorskrifte of riglyne vir hierdie “grys-areas” te gee. Jongmense bly egter op hulle tone en dink nuwe vrae uit. Die een student wonder: “Watter drankie haal sy oë van matigheid af” en die tiener paartjie sukkel om te verstaan “Hoe vêr is te vêr” as hulle na ’n praatjie oor die “swemklere reël” luister.

Sommige tieners beleef hierdie kruispad op sy intensste as hulle oor hulle toekoms begin dink. Wat moet ek na skool doen? Moet ek gaan studeer of werk of ’n gap jaar vat? Wat is my roeping? Hoe volg ek God se plan vir my lewe? Wat gebeur as ek ’n passie vir meer as een ding het?

Ek wonder of die tyd nie verby is om klinkklaar maklike antwoorde op hierdie vrae te probeer gee nie. Kategese materiaal kan op geen verstaanbare manier so geskryf word dat dit die regte rigting vir elke persoon by elke kruispad uitwys nie. Ek dink ook nie kategese materiaal is baie geslaag as dit vir jongmense ’n klomp moets en moenies probeer leer nie. Kom ons fokus in kategese eerder op waardes wat in Christelike beginsels gevestig is. Hierdie waardes kan hulle in verhouding met God; in die Woord, by die kerk, huis en wêreld aanleer.

As jongmense selfbeheersing aanleer, gaan dit die manier beïnvloed wat hulle drank hanteer. Dit gaan ook ’n rol speel as hulle met ekologie omgaan.  Indien tieners respek vir hulself en ander het, behoort hulle respekvolle besluite in hulle romantiese verhoudings te neem. Hierdie waardes werk soos ’n kompas wat jongmense deur die lewe lei: ’n Kompas wat rigting aandui en ons help om onsself te oriënteer. Ek wonder ook soms: Is dit nie dalk moontlik dat ons alle uitdagings tot T-aansluitings wil vereenvoudig, omdat ons die Bybel as ’n GPS hanteer, al is dit eerder nader aan ’n kompas ?

Hoe help dit vir Gerhard? Hy kan ’n kompas uithaal en kyk. Hy weet links is die regte rigting en met sy kompas kan hy aanhou om in die regte rigting te beweeg. In ons persoonlike lewe, help die kompas jou om verantwoordelike besluite in moeilike situasies te neem. Daar is wel iets wat ons kruispaaie anders as Gerhard s’n maak. Ons staar nie alleen in stofstrate af nie. God is langs ons om ons deur die kompas en in die wêreld te lei.

Huisgeloof

Daar is toenemende denke in die groter wêreldkerk dat die belang van die huis en ouers se invloed op geloofsvorming onderspeel word.  Die Algemene sinode se Taakspan Kategese het die term Huisgeloof geskep, om gemeenteleiers te help om met ’n ander lens na geloofsvorming te kyk. Dit is ’n lens wat poog om te wys hoe die huis betrek behoort te word in die lewenslange geloofsvormingsproses van elke Christen. Huisgeloof is dus nie ’n nuwe program,  kurrikulum of kitsoplossing nie, maar ’n ander manier van dink (dalk nader aan Deutronomium 6 se manier van dink) oor en kyk na die geloofsvorming wat reeds in ons gemeentes gebeur of behoort te gebeur en hoe die ritmes van elke dag se lewe gebruik kan word om God te ervaar en beter te leer ken.

Vyf uitgangspunte kom onmiddellik in spel wanneer ons aan die term Huisgeloof dink:

Huisgeloof in jeugbediening en kategese

Die kerk se rol in geloofsvorming binne die ruimte van jeugbediening en kategese kan in drie bane uitgewerk word:

1. Die bemagtiging van ouers – Neem-dit-huis toe

Die meeste ouers is nie negatief en onwillig om betrokke te raak by die geloofsvorming van hulle kinders nie, maar hulle weet net nie hoe nie.  Sommige voel onseker omdat hulle dink hulle moet al die regte antwoorde hê om hulle kinders te kan begelei; nog ander is van mening dat hulle lewens vol gebrokenheid is en dat hulle eers heel moet wees voordat hulle hul kinders kan begelei. Kategese is daarom die ideale ruimte waarbinne ouers bemagtig kan word in geloofsvorming.

Elke gemeente kan gereeld, na gelang van hulle konteks, spesifieke interaktiewe werkswinkels skep (verkieslik rondom of tydens die kategese) waarin ouers en kinders  toegerus en begelei kan word in spesifieke geloofsvorming vaardighede wat hulle verder kan ontwikkel by hulle huise.  Die doel van sulke byeenkomste is:

(1) om ouers bewus te maak van hulle rol as primêre verantwoordelike persone in geloofsvorming  en hulle invloed in hulle kinders se lewens;

(2) om families te inspireer oor ‘n spesifieke vaardigheid uit die Bybel en deur  getuienisse van mense wat dié vaardigheid in hulle huise reeds toepas

(3) Om families te wys hoe om die vaardigheid in ’n aktiewe leerproses self in die gesin te laat inoefen en

(4) om gesinne toe te rus met ’n neem-dit-huis-toe hulpmiddel wat hulle in staat sal stel om die vaardigheid by die huis te beoefen.

Vaardighede rondom geloofsvorming, wat op sekere ouderdomme van toepassing is, kan deel uitmaak van hierdie toerustings geleenthede.  Hier kan gesinne byvoorbeeld toegerus word rondom die doop, hoe om mekaar te seën, die waarde en gebeure rondom die familie-tafel, Gebed, diens, erediens belewing, my Bybel, ek en geld, waardes, verhoudings en dating en die viering van mylpale as hulpmiddel in geloofsvorming, ens.

2. Kategese en Huisgeloof

Die sisteem waarbinne elke kind leef (sy huismense), is die wêreld waarbinne sy geloof geleef, getoets, deurgepraat, ingeoefen en uitgebou behoort te word. Die uitgangspunt van enige kategese proses behoort dan te wees om die huismense van kinders en jongmense saam te bind rondom een verhaal of een tema vir die week.

In die jongste materiaal wat ons by die Taakspan geskep het vir spesifiek kategese, is dit vir ons belangrik om ‘n brug te bou tussen die huis en dit wat by die kategese gebeur, daarom word gesinne aangemoedig om die verhaal of teks wat in die kategese en erediens gebruik is, weer in die huis te hanteer en mekaar te help om dit prakties gestalte te gee. Die taakspan se nuutste Kategese-materiaal bestaan uit twee reekse: Die LP3 reeks met werkboekies (Coolste plan, Wys my die Weg, en nog 4 in produksie) vir Graad 1 tot 6 en die Real Lewe reeks met werkboeke (Vier jaar plan) vir Graad sewe tot 10. In hierdie reekse word die gesin dus al meer deel gemaak van die geloofsvorming van ons kinders.

3. Mylpaalviering

‘n Mylpaal is ‘n merker op die lewenspad wat sê: Hierdie is ‘n belangrike punt in die lewe. Dit is tyd om vir ‘n oomblik stil te staan, die oomblik te vier, die vreugde en hartseer  te deel, om ondersteuning te ontvang en te gee en om te reflekteer waar en hoe ons God in ons lewenstorie ontmoet het.  Daar is verskillende soorte mylpale: Geloofsmylpale (doop, belydenisaflegging, ens), jaarlikse mylpale (verjaarsdae, herdenkings, ens.) en eiesoortige mylpale (bestuurderslisensie, dood van troeteldier, ens). In Huisgeloof wil ons gemeentes ondersteun om ouers toe te rus om mylpale te identifiseer, dit te benut as geleenthede vir geloofsvorming en wil ons gemeentes aanmoedig om mylpaalbediening deel van hulle totale gemeentebediening te maak. Materiaal in die verband word tans ontwikkel.

Hou dit eenvoudig

Waar begin mens om hierdie nuwe lens in geloofsvorming deel van ’n bedieningspraktyk te vestig? Ons voorstel is om dit eenvoudig te hou en klein te begin. Lees eers die boek van Mark Holmen, Kerk+Huis, om ’n teoretiese onderbou van Huisgeloof te ontwikkel. Begin dan met iets eenvoudigs wat gesinne kan doen om geloofsvorming in die huis te bevorder. Ons voorstel is om te begin met ’n huistafel-gesprek (Jy kan Huisgeloof kosblikke, wat julle in die verband op ’n baie praktiese manier sal help, by BybelMedia bestel). Die huistafel-gesprek is ’n eenvoudige gesprek wat een keer per dag rondom die etenstafel (indien die huis ’n tafel het) plaasvind. Hierdie tafelgesprek verbind die kerk met die huis, geloof met die lewe en volwassenes met kinders op ’n kragtige manier. Julle kan ook die preek en kleingroepgesprek: Herontdek Jesus aan jou huistafel aflaai van die webblad van BybelMedia om die gemeente as geheel hierin te begelei. Vra gereeld Sondae in die eredienste terugvoer en moedig gereeld gesinne aan in die erediens om hierdie stap vol te hou. As julle een fokus per kwartaal byvoeg en steeds volhou met wat julle reeds geimplimenteer het, sal gesinne daarby begin inkoop en baat vind. Hou dit net so inklusief (alle vorme van gesinne) moontlik.

Die Algemene sinode se Taakspan Kategese is besig om materiaal te ontwikkel om gemeentes te ondersteun in hulle toerustingstaak in geloofsvorming.

Materiaal wat reeds beskikbaar is by BybelMedia vir HuisGeloof is:

  1. Mark Holmen se boek in Afrikaans – Huis + Kerk
  2. HuisGeloof Kosblik – Begeleiding aan gesinne om geloofsvorming op eenvoudige praktiese manier uit te leef.
  3. Doopvoorbereiding vir ouers geskryf deur Jannie du Plessis, wat ouers van vroeg af al wil begelei op die pad van geloofsvorming.

Binnekort:

  1. Lewensfase toerusting – Daar is vir elk lewensfase (Geboorte tot en met 18 jaar)  dokumente beskikbaar waarmee gemeentes huise kan toerus om die fisiese-, sosiale-, morele- en geestelike ontwikkeling binne daardie spesifieke lewensfase te verstaan en te kan begelei.
  2. Preke/ Groepbyeenkomste:
    • Om mekaar te seën (preek)
    • Herontdek Jesus aan jou huistafel (preek plus kleingroepgesprek)
  1. Artikels:
  • Kerkbode: Huisgeloof kan kerke weer volmaak
  • Kruisgewys: Huigeloof help ons nuut dink oor kategese
  1. Mylpaalviering:
  • Wenke oor mylpaalbediening in gemeentes
1 2